THE ROBBERTZE LINEAGE

In honour of the unity, compassion, and legacy of the Robbertze family.

Sum qui sum, unum sumus.

THE ROBBERTZE LINEAGE

In honour of the unity, compassion, and legacy of the Robbertze family.

Sum qui sum, unum sumus.

Jakkals en Kraanvoel

by | Jun 25, 2026

Jakkals woon diep in die bos saam met sy vrou en kinders. Hy het ‘n diep gat in die grond gegrawe sodat sy kinders daarin kan skuil solank hulle nog baie jonk en swak is. Bedags kan die jakkalse in die hoe gras naby hul woonplek le om sodoende heerlik in die son te bak. Snags het pa en ma gaan kos soek deur jag te maak op klein diertjies en voels.


Ou Kraanvoel, n ander bosbewoner, het weer sy nes hoog in die toppie van ‘n reuse ou boom gemaak. Die boom het naby ou Jakkals se woonplek gestaan. Kraanvoel en sy vrou was die bure van Jakkals en het mekaar gevolglik dikwels gesien. Hulle het begin om oor en weer te kuier ook.


Jakkals het dit baie geniet om die ander diere te kul en hulle moes gedurig onder die ou se poetse deurloop.


Een oggend besluit ou Jakkals om vir Kraanvoel ‘n poets te bak. Hy het goed geweet dat sy buurman ‘n lang rooi snawel het met ‘n ou dun tongetjie binne die snawel.
Ou skelm Jakkals loop toe vir Kraanvoel diep in die Bos raak en besluit net daar op die plek om hom vir aandete te nooi.


“Goeie More Buurman”, groet Jakkals oorvriendelik. “More Jakkals” kom die antwoord.


“Buurman, dit is vir my ‘n groot voorreg om jou te nooi om more aand by my te kom eet” se ou Jakkals met die vriendelikste uitdrukking op sy bakkies.
“Ek neem jou uitnodiging met graagte aan”, se Kraanvoel en skud solank sy vere reg vir die groot aand.


Baie honger en lus vir die heerlike kos wat Jakkals belowe het daag Kraanvoel met sononder by Jakkals se huis op. Die tafel staan reeds gedek en Kraanvoel en Jakkals neem hulle plekke aan tafel in. “Bring maar die kos, vrou”. Mevrou Jakkals kom binne met n heerlike, stomende bak sop wat so lekker ruik, dit laat ‘n ou se mond sommer water.


Sy haal die doek wat oor die tafel gele het af. Verbaas kyk Kraanvoel na die tafel waarop slegs twee baie vlak borde gedek is. Sy skep die hele koppie sop in elke bord in. “Kom ons eet maar, lekker smul aan die kos Kraanvoel.” se Jakkals.


Arme ou Kraanvoel doen sy bes om met sy lang dun snawel die sop te probeer drink maar slaag glad nie daarin om n enkele druppel in te kry nie.
“Buurman, aangesien jy nie honger is nie en nie jou kos wil eet nie, kan ek dit maar kry want ek is nog nie versadig nie?”, se Jakkals ewe onskuldig met ‘n spotlag op sy bakkies.
Kraanvoel is stomgeslaan, met ‘n magtelose gevoel gee hy die bord sop aan Jakkals en kyk met wrewel in sy hart hoe dat Jakkals met sy plat tong al die sop uit die bord opslurp.


Die ete is verby. “Goeie nag”, brom Kraanvoel en met ‘n maag wat skree van honger verlaat hy die tafel en treurig kom hy by sy huis aan. “Vrou, eendag sal ek nog daardie ou skelm wys waar Dawid die wortels gegrawe het”, se hy aan sy vrou en probeer om te slaap. Dikgevreet spring Jakkals in die kooi en slaap heerlik laat die volgende oggend.

Koelemani word wakker, spring uit die vere, kyk by die venster uit en merk dat dit ‘n heerlike vars oggend is. Die voels baljaar in die bome, die sonstrale skyn deur die blare. Koelemani besluit dat dit net die oggend vir ‘n lang wandeling deur die bos is. Hy neem sy wandelstok, fluit-fluit neem hy die voetpad en geniet dit terwyl hy al groetende die diere ‘n goeie more toewens.


“Nou wie op aarde staan daar so treurig onder die groot boom?” praat Koelemani met homself. Dit is kraanvoel wat so moedeloos voel. Hy staan net op een been, sy vlerke hang, pap langs sy lyf. Dit lyk of hy enige oomblik kan omval. Dit is baie duidelik dat hy iets swaar op die hart het. Goeie geselskap sal hom die wereld se goed doen.


“Wat pla dan so erg ou maat?” vra Koelemani. “Dit is daai slegte ou Jakkals wat my so ontstel” antwoord Kraanvoel. Hy vertel nou breedvoerig aan Koelemani presies wat Jakkals die vorige aand aangevang het.
“Op watter manier kan ek hom n les leer?” vra Kraanvoel wetende dat dit eintlik die werk van Koelemani is om raad te gee en vrede tussen die diere te bewaar.


“Betaal hom in eie munt terug en ek sal jou help om dit te reel” antwoord Koelemani. Kraanvoel moes ook ‘n ete gee en Jakkals en Koelemani daarheen uitnooi. Dadelik voeg hy die daad by die woord. Met sierlike vlerkslae skiet Kraanvoel hoog die lug in om sodoende vanuit die hoogtes te kyk of hy nie ou Jakkals kon opspoor nie.

Terwyl Jakkals so in die bos ronddwaal merk hy ‘n klein swart stippeltjie hoog bo in die lug. “Sowaar, kyk daar vlieg my vriend so hoog in die lug, ek wonder waarna hy soek?” praat die ou met homself. Skielik merk Kraanvoel vir Jakkals tussen die bome en met ‘n sierlike duikslag land hy netjies langs sy prooi.

“Goeie more Jakkals, hoe gaan dit met jou?” groet Kraanvoel baie vriendelik. “More Kraanvoel, waarom dan so opgewonde?” se-vra Jakkals so effe agterdogtig.
“Jakkals my vrou kook heerlike kos vanaand, wil jy nie by ons kom eet nie” nooi Kraanvoel. Jakkals neem die uitnodiging aan want hy is darem al baie honger omdat hy die hele dag nog nie ge-eet het nie.

(4)
Vol verwagting daag Jakkals by Kraanvoel se huis op en word dadelik binne genooi. Tot sy grootste verbasing sit Koelemani ook aan die tafel. “Welkom ou Jakkals” groet Koelemani. Die tafel is al gedek en alles daarop is met ‘n doek bedek.

Kraanvoel, Jakkals en Koelemani is gereed vir die ete. Mevrou Kraanvoel neem die doek weg. In die plek van borde is die tafel gedek slegs met drie bottels met baie nou bekke. “Hier is julle sop” se mevrou Kraanvoel en vul elke bottle net in die helfte. “Ah” se Koelemani, “Dit sal lekker wees!” Hy neem die bottel en drink dit leeg. Tydsaam steek Kraanvoel sy snawel in die bottel en drink dit ook leeg. Ou Jakkals sit nou met ‘n groot problem want sy dik plat tong kan hy nie in die bottle kry nie. Hy probeer oor en oor maar verlee gee hy maar moed op. “Waarom eet jy nie jou kos nie, Jakkals?” vra Koelemani. Hy dink dadelik terug aan die gemene poets wat hy vir Kraanvoel gebak het en bly liewer stil as om sy skuld te erken.
“Jakkals kan jy dink hoe Kraanvoel gevoel het toe jy die gemene poets op hom gebak het?, jy het dit gedoen om hom te verneder. Dit was baie slegte maniere van jou. Jy sal nou maar jou straf soos ‘n man moet dra”.

Met ‘n rooi gesig van skaamte erken Jakkals dat hy verkeerd gedoen het en belowe om dit nie weer te doen nie. Almal in die bos het egter ou Jakkals goed geken. Hulle het geweet dat hy nooit by sy beloftes bly nie. Omdat hy so onbetroubaar is moes Koelemani maar die straf uitdeel.

Vanaf daardie dag af sou almal in die bos weet as Jakkals uitgaan om te gaan kos soek. Wanner hy so deur die bos dwaal opsoek na kos sal die hongerpyne hom dwing om sulke lang, treurige tjanke te gee. Elkeen naby hom sal sy huilgeluide hoor en dink aan al die kere wat Jakkals die ander diere so swak behandel het. Dit is nie net ou Jakkals wat gestraf word nie want sy nageslagte maak tot vandag toe ook sulke geluide as hulle op soek is na kos, omdat hulle Oupagrootjie so ‘n ou on-nut was.