Groenmannetjie besluit om vir ‘n wandeling te gaan. Hy neem sy wandelstok en kies koers na ‘n gedeelte van die Bos wat baie dig begroei is met groot bome waar die sonstrale omtrent nooit skyn nie. ‘n Baie snaakse voël wat lyk soos ‘n tarentaal, maar tog nie een is nie, het vir ‘n paar oomblikke in die skadu onder ‘n boom verskyn. Groenmannetjie het glad nie geweet dat daar so ‘n voël bestaan nie en besluit dat hy navraag daaroor gaan doen totdat die geheim opgelos is.
‘n Ander bosbewoner wat graag in die donker hoekies woon, is Bosbok. Hy weet wat daar diep in die woud aangaan en die verhale word van pa na seun oorvertel tot vandag. Bosbok weet nie eers meer die hoeveelste bok hy is wat Bosbok genoem word nie.
Bosbok belowe dat hy die legende van die vreemde tarentaal-soort aan Groenmannetjie sal vertel. Hulle ontspan onder ‘n baie groot wildevyboom, terwyl Bosbok begin vertel van die tarentale. Bankrot, so genoem omdat hy gedurig roep: Bankrot! Bankrot! Bankrot!, was die leier van die swerm tarentale.
Bankrot is ‘n grys voel met wit spikkels oor sy hele lyf. Op sy kop groei ‘n horing wat baie lyk soos die van ‘n renoster , hulle kan ook baie raas, veral as hulle skrik. Hulle broei in die vroeë somer in lang gras en loop dan twee-twee, in pare rond.
In die winter vorm tarentale groot swerms. Hulle leef van insekte, sade en klein plantbolletjies wat uit los grond geskop word.
Die jong mannetjies is gedurig met kamma-tweegevegte besig, terwyl die wyfies die gepronk stil dophou. Omdat hulle selde in die bosse kom en die oop grasvlaktes verkies, is hulle aan baie gevare blootgestel.
Jakkalse en wilde katte kan die meeste pla. Snags kan hulle nie mooi sien nie en as hulle dan op die grond slaap, kan die jakkalse wat daar rond snuffel en die tarentaal se reuk kry, vir hom ‘n heerlike maatlyd vang.
Om hulleself te probeer beskerm, slaap die tarentale liewer in hoë bome en beweeg bedags in swerms om mekaar makliker te waarsku as gevaar op hulle wil toesak.
Katte kan wel boomklim, maar skrik gewoonlik wanneer die tarentale in die stil nag hulle benoude waarskuwings uiter.
Een van die jong mannetjies met die naam van Agie, het gedurig probleme gehad. Soos sy naam aandui, het sy nuuskierigheid hom meer as een keer in die sop laat beland. Hy was nie net nuuskierig nie, maar was ook ‘n regte waaghals, wat gedurig op soek was na avontuur.
Eendag kom hy op ‘n luislang af wat doodstil onder ‘n boom gelê het. Vir Agie het dit gelyk of die slang dood is. Hy stap nader om ondersoek te gaan instel. Die slang lyk leweloos en Agie trap toe ook sommer op sy kop. Soos blits probeer die slang om Agie krul om hom dood te druk. Gelukkig vir Agie is hy ‘n baie rats voël want, behalwe vir ‘n paar stertvere wat hy verloor het, het hy heelhuis daaarvan afgekom.
Van daardie dag af het Agie draaie om ‘n slang geloop, maar hy was nog net so nuuskierig soos altyd.
Soms gebeur dit dat wilde katte helder oor dag probeer om van die tarentale te vang, veral die jong voëls wat nog nie kan vlieg nie. Agie merk ‘n kat wat daar rond sluip en omdat hy goed kon vlieg, besluit hy om die kat te gaan terg. Hy het hom misreken want die kat was honger en het besluit om vir Agie te jag. Gou was Agie baie moeg en slaag net daarin om in ‘n bos te vlieg. Die kat begin in die boom klim. Hoe nader die kat aan Agie kom, hoe verder skuif hy weg op die dun tak waarop hy sit. Die oomblik toe die kat hom wou bespring, verloor hy sy balans en val van die tak af. Amper was dit klaarpraat met Agie.
‘n Breëkoparend sirkel hoog in die lug op soek na ‘n prooi tussen die gras. Die tarentale sien hom, gee elkeen ‘n waarskuwingsroep en kruip vining in die gras weg. Agie steur hom nie aan die gevaar nie en verwonder hom aan die arend wat so hoog kan vlieg.
Skielik duik die arend met sy wrede kloue gereed om te gryp op Agie af. Amper te laat koets Agie agter ‘n klip in, maar hierdie keer doen hy ‘n wond aan een van sy vlerke op.
Omdat dit gevaarlik is op die oop vlakte besluit Agie om te gaan kyk hoe dit dieper in die bos lyk. Die hoë bome, dig opmekaar , en die digte blarekleed vorm ‘n donker, vreemde wêreld vir Agie. Hy weet glad nie watter soort vreemde vyand hy te wagte kan wees nie en ook nie watter soort kos daar te ete is nie. Die roofdiere in die bos is vir hom onbekend.
Agie sien ‘n gevaarlike luiperd vir die eerste keer in sy lewe. Hy besluit om nie iets onverantwoordeliks in die vreemde aan te vang nie.
Stadig maar seker begin hy aan bobbejane en luiperds gewoond raak en in die mooi maar vreemde omgewing begin Agie dit te geniet.
Agie het later eensaam geword in die vreemde, hy besluit om vir hom ‘n wyfie uit die swerm te gaan haal en dan saam met haar diep in die bos te gaan woon. Hy raak betrokke in ‘n tweegeveg met ‘n ander mannetjie maar sy ondervinding wa thy in die bos opgedoen het, help hom om ‘n oorwinning te behaal.
‘n Pragtige wyfie het besluit om saam met hom in die vreemde te gaan woon. Gou het hulle ‘n kol in die bos ontdek waar genoeg gras groei om ‘n nes te maak. Terwyl sy wyfie broei het hy bedags die wêreld naby die nes verken en snags in die boom naby die nes wag gehou. As daar die geringste roering plaasvind, het hy luidkeels sy wyfie gewaarsku dat daar iewers ‘n gevaar dreig.
Baie dooie boomstompe lê in die bos rond. Een van die stompe was hol, en daar het Ratel sy woonplek gemaak. Ratel het die snaakse gewoonte dat, as hy aan iets byt, dan byt hy vir lewe en dood en laat nie los nie. Om uit sy kake te kom as hy eers vasgebyt het, is baie moeilik. Agie kyk in die hol stomp in en merk ‘n paar krieke om te vang. Versigtig kruip hy in die stam in, onbewus van Ratel wat waghou oor sy kleintjies.
Ratel dink dit is gevaar, spring vorentoe en hap in die half donker na die indringer. Hy voel dat hy iets raak gehap het en byt vas. Die horing op Agie se kop het in die slag gebly. Dit kraak en breek en bloed vloei daaruit. Agie probeer hom losruk, maar verniet, los wil Ratel nie. Agie begin al in die rondte draai. Die horing breek stomp op sy kop af. Hy vlug so vinniog as moontlik daar weg. Sy vere is besmeer met nat, vrot hout.
Na ‘n paar weke het hy van sy wonde herstel, die horing het nie weer terug gegroei nie, maar wonder bo wonder, in die plek daarvan het ‘n kuif van krullerige vere gegroei. Sy vere se kleur was byna swart en sy oe het so rooi en bloedbelope gebly.
Agie besluit om permanent in die donker bos te bly, want hy was skaam vir sy maats, omdat hy nou so anders as hulle gelyk het. Hy het ‘n mooi nes gebou en sy wyfie het op ‘n hele broeisel eiers gesit. Toe die kuikens uitkom en vol vere was, het hulle net soos hulle pa gelyk, rooi oe, amper swart en ‘n fraai kuif op die kop.
Die kuikens was ook net so skaam soos Agie, hulle het net soos hulle pa diep in die bos gewoon en word baie selde gesien. Tot vandag toe lyk hulle nageslag soos Agie en leef hulle in afsondering. Die mense noem hulle vandag Kuifkoptarentale
