THE ROBBERTZE LINEAGE

In honour of the unity, compassion, and legacy of the Robbertze family.

Sum qui sum, unum sumus.

THE ROBBERTZE LINEAGE

In honour of the unity, compassion, and legacy of the Robbertze family.

Sum qui sum, unum sumus.

Die Kool Is Die Sous Nie Werd Nie

by | Jun 25, 2026

Omdat Groenmannetjie vir jare tussen die wilde diere woon, kon hy baie verhale vertel van diere en hul doen en late. Een so ‘n verhaal is die van Jagluiperd met ‘n stomp stert.

Naby Groenmannetjie se huis het ‘n erdvark ‘n baie diep gat gegrawe. Die gat kon skuiling bied aan diere wat hul kleintjies in gate grootmaak. Flitsblits, die jagluiperd het in die gat gewoon terwyl sy haar drie kleintjies, Hink, Pink en Knor daarin versorg het. Om vir drie honger kleintjies kos aan te dra was ‘n taak vir meer as een jagluiperd. Die ergste was dat een van die kleintjies ‘n baie snaakse geaardheid gehad het. Knor was gedurig besig om die ander twee af te knou en te terg. Sy streke kon soms lasting wees vir ander diere. Flitsblits het baie met hom geraas, maar ongehoorsaam het hy gebly.

Die arme ou Harmansdrup, die skilpad, moes dikwels onder Knor se streke deurloop. Sodra hy sy kop onder die dop uitsteek, gryp Knor dit vas en sleep dit oor die sand rond. Om te probeer weghardloop, was nutteloos want Knor was een van die vinnigste diere en Harmansdrup, een van die stadigstes.

Eendag nooi Groenmannetjie vir Harmansdrup om vir hom te kom kuier. Dit was net die regte geleentheid om te kla oor die gedrag van Knor. Harmansdrup wou nie meer op ‘n lang wandeling gaan nie, uit blote vrees dat hy weer deur Knor lasting geval sal word.

‘n Vriend van Groenmannetjie, Tawwetienie die Ratel, behoort te weet hoe om van so ‘n laspos ontslae te raak. Tawwetiene se plan word toe baie fyn uitgewerk. Hy en Harmansdrup soek ‘n sanderige plek uit. Harmansdrup word met rug in ‘n holte in die sand neergele. Hy steek sy pote aanhoudend uit en swaai daarmee rond asof hy probeer om weer op sy pote te rol, maar dit nie kan regkry nie.

Naby die plek waar Harmansdrup met sy swaaiende pote le, het Tawwetienie ‘n groot, swaar ronde klip gerol. Hy kruip agter die klip weg sodat dit lyk of Harmansdrup alleen en hulpeloos daar le. Nadat die twee vriende vir ‘n tyd lank geduldig gewag het, merk hulle dat Knor aangestap kom. Knor merk sy ou vriend in die ongemaklike posisie en stap nader. Eers bejammer hy vir Harmansdrup en vra onnodige vrae net om snaaks te wees. Harnansdrup smeek om hulp maar hy weet goed dat hy geen hulp van Knor kan verwag nie, hy sal eerder van die wal in die sloot gehelp word.

Knor ruk en pluk aan Harmansdrup en maak of hy hom wil omrol, maar telkens druk hy so hard as hy kan op die dop van Harmansdrup om hom nog dieper in die sand te laat vassit. Skielik hou hy op om hulp te gaan soek maar op Harmansdrup se versoek stem hy toe om nog een keer te probeer. Hy maak of hy al sy krag inspan om Harmansdrup om te rol. Sy lang stert le mooi reguit in die sand. Met een stoot rol Tawwetienie die klip mooi bo-op Knor se stert. Harmansdrup rol self om en daar staan hy en Tawwetienie en lag vir Knor wat al sy kragte inspan, maar hy kan die klip op sy stert nie eers effens roer nie. Tawwetienie en Harmansdrup maak nou of hulle die klip van Knor se stert wil afrol, maar is kastig te swak om dit te doen. Hulle sal nou maar moet gaan hulp soek en dit nogal by Groenmannetjie.

Knor is baie bang vir Groenmannetjie en smeek dat hulle liewer iemand anders moet kry om die klip van sy stert aft e kry.

Selfvoldaan stap die twee maats baie tydsaam in die rigting van Groenmannetjie se huis. Hulle is nie haastig nie, want die son moet eers vir Knor goed warm bak voordat hulle hom gaan bevry. ‘n Miernes naby die plek waar Knor se stert vassit onder die klip skep nou vir hom ‘n groot probleem. Die miere word kwaad omdat hul nes so verniel word deur Knor wat woes tekere gaan om los te kom. Klein stukkies vel word van Knor se stert losgeskeur deur die woedende diere. Die bloed loop uit die wond, maar die miere byt en knaag sonder ophou terwyl Knor jammerlik roep om hulp.

Knor kan die pyn in sy stert nie meer verduur nie en begin om om en om te rol om sodoende sy stert onder die klip te porbeer uitdraai. Sy stert draai nie onder die klip nie want die klip is te swaar maar waar die miere byt, draai sy stert wel. As hy so aanhou met omrol gaan sy stert morsaf draai. Net voordat sy stert die breekpunt bereik, kom Groenmannetjie en sy twee vriende daar aan. Knor is baie skaam omdat hy in so ‘n vernederende posisie verkeer dat hy skoon spraakloos is, hy vra nie eers dat die klip weggerol word nie.

Tawwetienie rol die klip weg en daar staan Knor uitgeput en baie verlee met ‘n stert wat nog net aan ‘n stukkie sening hang. Dit is baie duidelik dat Knor sy stert vir goed verloor het. Groenmannetjie wou die stert sommer net daar met sy knipmes afsny, maar Knor pleit mooi dat hy dit nie moet doen nie. Bleek en uitgeput kom Knor by Flitsblits, Hink en Pink aan en hartseer vertel hy sy treurige verhaal. Sy stert word versigtig verbind, maar die kans op herstel is maar skraal.

Na verloop van ‘n week het die stert letterlik afgevrot. Sulke afsterte groei nooit weer langer nie. Vir die res van hulle saamwees, sal Hink en Pink met hom die spot dryf wanneer die twee met hulle mooi lang sterte voor hom pronk. Flitsblits se kommentaar was kort en bondig, dit betaal nie om stout en ongehoorsaam te wees nie.

Toe die somer aanbreek moes al drie die jong luiperds elkeen sy eie koers kies. Dit was die begin van ‘n baie moeilike tyd vir Knor. Om met ‘n stomp stert te jag is baie moeilik want die stert word gebruik as ‘n soort stuur. Om skerp draaie verloorl Knor elke keer sy balans en verloor hy spoed omdat sy remme en stuur met die stompie nie so doeltreffend werk nie.

Noodgedwonge moes Knor vining vir hom ‘n maat soek sodat hulle saam kon jag, hy het die aankeerwerk gedoen en sy maat die vangwerk. Die lewe het darem weer sy blinkkant na Knor gedraai, maar een les het hy baie deeglik geleer, om stout en ongehoorsaam te wees en om dinge met opset verkeerd te doen, is alles die kool die sous nie werd nie. Vir sy lewe lank sl hy nou die bynaam van Stompie moet aanhoor. Hy is tevrede dat hy sy les op die harde manier geleer het maar die goeie nuus is darem dat sy maat drie kleintjies gekry het en nie een van die drie het ‘n stomp stert nie.